AfriForum Teater vier eerste verjaardag met bekendstelling van Die Gelofte Musiekblyspel

AfriForum Teater verwelkom binnekort die sterbelaaide musiekblyspel Die Gelofte op die verhoog. Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied word. Die rolverdeling spog met groot name in die musiek- en teaterbedryf waaronder Johan Vorster, Nadia Beukes en Bernice West.

Die teks is deur Jannes Erasmus geskryf en volg die geskiedkundige gebeure wat die aflê van Die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het. Erasmus behartig ook die regie vir dié produksie. Musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Villiers behartig en Francois Lessing is aan die stuur van orkestrasie en musiekregie. Volgens Erasmus is die musiek splinternuut, oorspronklik en werklik op ’n internasionale standaard.

AfriForum Teater het op 3 Maart sy eerste verjaardag gevier en hierdie produksie beloof om die standaard hoog te stel aan die begin van dié jong teater se tweede bestaansjaar.

“AfriForum het hierdie musiekblyspel laat skryf aangesien ons as hedendaagse Afrikaners vandag beslis steeds inspirasie kan put uit die deursettingsvermoë, geloof en roepingsgedrewendheid wat ons voorgeslagte onder uitdagende omstandighede ten toon gestel het tydens die aflê van Die Gelofte en die Groot Trek. Hierdie inspirasie kan elkeen van ons besiel om vandag met dieselfde ywer te bou aan ’n beter toekoms,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Aangesien AfriForum se kerntaak is om ’n beter toekoms te bou, is dit veral gepas dat hierdie musiekblyspel by die AfriForum Teater op die planke kom.Dit is ook belangrik om belangrike momente in die Afrikaner se geskiedenis aan ons jongmense oor te dra en dat ons almal opnuut sal besef dat ons trots kan wees op die opofferings wat ons voorgeslagte gemaak het. Ons kan trots wees op wie en wat ons as Afrikaners is. Die musiekblyspel leen hom by uitstek daartoe om hierdie boodskap van hoop oor te dra, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs,” sluit Kriel af.

“Wanneer jy na hierdie musiekblyspel kom kyk, sal jy verstaan waarom dit belangrik is om dié verhaal te vertel. Daar word parallelle getrek wat oor byna 200 jaar strek en vandag steeds relevant is. Grond, gesinsbande en die grusame werklikheid van die lewe,” sê Erasmus.

“Dit is ’n voorreg om die pen vas te hou, maar daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op my om met menslikheid en deernis in die regisseurstoel te sit. Die geskiedenis kan nie herskryf word nie, maar dit kan vanuit ’n ander perspektief benader word. Hierdie is ’n musiekblyspel soos jy nog nooit een ervaar het nie en in jou moedertaal,” sluit Erasmus af.

“Die skryf van hierdie musiekblyspel het ons lewens verander. Ons het aanvanklik gedink dat die verhaal slegs ’n deel van ons geskiedenis is maar dit is soveel meer. Ons vertrou dat elke persoon wat hierdie musiekblyspel gaan kyk, se lewens ook aangeraak sal word. Daar was hoop vir ons in 1838 en daar is steeds hoop vir ons vandag,” sê Vorster en De Villiers.

“By AfriForum Teater skep ons nie net ’n platform vir die Afrikaanse kunste nie, maar ons bring ook die Afrikaanse gemeenskap bymekaar. Die Gelofte is ’n belangrike deel van ons erfenis wat oorvertel en herdenk moet word. Dit is meer as ’n dekade sedert daar ’n geskiedkundige blyspel van dié aard op die planke was. Ons sien uit om hierdie blyspel op ons verhoog te verwelkom en is trots om deel daarvan te wees,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

Kaartjies vir Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is nou beskikbaar.